Ons Grondslagfase bestaan uit vyf klasse. Klasgroottes wissel van 10 tot 18 leerders per graad. Ons jongste groepie is die 3-5 jarige Klippies. Hier leer ons kinders deur te speel en hulle ontdek en ontwikkel ‘n verskeidenheid vaardighede wat die grondslag vir hul leer lê.
Die Graad R tot Graad 3 kinders volg ʼn formele kurrikulum wat op die Nasionale Kurrikulum (KABV) gebaseer is en verder uitgebrei word. Aktiewe leer, probleemoplossing, kritiese denke, aanpasbaarheid en samewerking word in elke dag se onderrig en leer verweef om ons missie van “Leer om te Lewe, Lewe om te Leer” te ondersteun. Weeklikse robotika klasse en skaakonderrig dra ook daartoe by om die bogenoemde vaardighede te ontwikkel.
Alle grondslagfase leerders kry elke week ‘n Senzo les by ons arbeidsterapeut Ruané van Dyk. Dit is daarop gerig om die leerders se grootmotoriese vaardighede te ontwikkel en uit te bou. Hulle kry ook twee swemlesse per week om waterveiligheid en basiese swem tegnieke vas te lê.
Die leerders kry gedurende skooltyd deeglike blootstelling aan verskeie sportsoorte soos netbal, tennis, krieket, rugby en atletiek.
Binne hierdie besige skedule is daar ook daagliks ‘n kansie vir speel en om sosiaal te verkeer. Ons Klippie en Graad R leerders het ‘n afsonderlike, goed toegeruste speelterrein waarbinne hulle onder toesig na hartelus kan baljaar. Die Klippie en Graad R-klas het ook ‘n klasassistent wat deurentyd die juffrou en maats kan bystaan.
Ons Graad 1-3 leerders kry ook die geleentheid om pouses, onder toesig, sosiaal te verkeer en met hul maats te speel. Hulle het ‘n heerlike groot speelarea en daar is ‘n verskeidenheid toerusting en apparaat tot hul beskikking.