Nuusbrief 3 Julie 2020

Geagte ouers,

Die laaste dag van die welverdiende akademiese vakansie het aangebreek en ons staan op die vooraand van die hervatting van onderrig en leer en om die skool stuksgewys op kampus te heropen. Ek is seker dat dit wat u in die media lees u met meer vrae as antwoorde laat en het dit daarom goed gedink om ʼn bietjie inligting aangaande Rûens se realiteit met u te deel.

 

Die beperkinge en uitdagings wat die Minister van Onderwys genoop het om gister kinders se terugkeer na openbare skole verder te vertraag, is nie op ons van toepassing nie. Ons skool is silwerskoon, alle skoonmaakmiddels, reinigers, termometers, maskers (twee vir elke persoon) en beskermende drag is aangekoop en beskikbaar. Ons leerdertal per graad is klein, ons klaskamers en fasiliteite is meer as dubbel die verlangde grootte en daarom gaan die handhawing van voorgeskrewe sosiale afstande ook nie ʼn probleem wees nie. Die busroetes kry sisteme in plek om te verseker dat kinders wat siek is nie skool toe kom nie. Die bogenoemde stel ons in staat om die skool te heropen soos beplan en uiteengesit is in die nuusbrief van 5 Junie.

 

Indien alles goed verloop, behoort Rûens teen einde Julie weer vyf dae ʼn week fisies oop te wees vir onderrig en leer. Aanlynonderrig gaan ook deel van ons realiteit bly sodat kinders wat as gevolg van onderliggende toestande, siekte of kwarantyn nie skool kan bywoon nie, se onderrig en leer kan voortgaan. Ons gaan duidelike riglyne deurgee om die sinvolle aanbieding van tradisionele en aanlynonderrig moontlik te maak. Ons gaan beslis nie die kurrikulum inkort of die akademiese jaar begrawe en kinders net oorplaas nie, inteendeel, ons gaan onderrig en leer nog verder verbeter.