Nuusbrief 30 Junie 2020

Geagte ouers,

Ek glo en vertrou dit gaan goed en dat almal nog in goeie gees en gesondheid is. Ons is veral dankbaar vir die wonderlike reëns die afgelope paar weke. Dit doen mens se gees en gemoed goed om te sien hoe pragtig die omgewing lyk teenoor die ooreenstemmende tyd verlede jaar.

 

Ons heropen steeds 6 Julie aanlyn vir alle leerders en vanaf 13 Julie op kampus vir die grade soos in die nuusbrief van 5 Junie uiteengesit. Die enigste onsekerheid is nog rondom ons Klippie-klas. Volgens die Staatskoerant van 29 Junie mag kinders jonger as 4½ jaar nóú nog nie skool toe kom nie. ISASA is besig om met die minister te onderhandel; ons hou u op hoogte. Wees asseblief verseker dat ons al die protokolle sal volg om ons kinders, ouers, onderwysers en werkers so goed moontlik te beskerm.

 

Dit is lekker om ook goeie nuus te deel. Dit is vir ons aangenaam om vir juffrou Maritska Hamman by die Rûensfamilie te verwelkom.  Sy gaan Natuurwetenskappe, Sosiale Wetenskappe en Tegnologie aanbied vanaf Graad 4 tot 7. Sy was tot 30 Junie werksaam by Laerskool Panorama in Kaapstad en sluit 6 Julie by ons aan.

 

 

Ons het reeds vir juffrou Jessica Reynolds in die Graad 2-pos verwelkom en sluit graag ʼn foto vir die Graad 2-maats in. Sy is nog tans in Richmond werksaam en sluit 1 September by ons aan.

 

 

Ons is opgewonde oor die sonkrag installasie wat afgehandel is. Dit is ʼn 50KWh sisteem wat met gemak aan al ons elektrisiteit behoeftes gedurende die dag kan voldoen. Dit wek tans net soveel elektrisiteit op soos wat ons gebruik. Ons is besig met die aansoek om die stelsel aan die ESKOM eletrisiteitsnetwerk te koppel, sodat die oorskot elektrisiteit wat deur die stelsel opwek word, aan die netwerk gelewer kan word.

 

Die swembad se verhitters is reeds vir twee weke aangeskakel en die water word nou gratis verhit. Die water sal binnekort op die verlangde temperatuur wees.

150 Sonpanele op die saal se dak. Twee omsetters in die saal. Sonkrag data.